52 Gediggies: 'n Tweede kans
Ek het Wessel leer ken as ‘n jong man in die beginjare van sy loopbaan. Ten spyte van ‘n ouderdomsverskil het ons humorsin en ander waardes dit maklik gemaak om ‘n vriendskap te smee wat nou reeds sy derde dekade betree het.
Waarom is dit belangrik? Wanneer iemand deur die meul is, en jy word gevra om kommentaar te lewer op ‘n intieme, aardse, kwesbare uitdrukking van die vreugde van ‘n tweede kans, kan jy dit net doen binne die konteks van meelewing en waardering vir die afwyking van wetenskaplike werk, die skrywer se natuurlike milieu. Die bundel se eerste bedoeling is nie om ‘n literêre toekenning na te jaag nie; dit is inteendeel ‘n akademikus wat sy toga vir ‘n oomblik eenkant werp en net as mens, as man, die reis van ‘n nuwe ontmoeting, deur die voetheuwels van verlief wees tot by die bergtop van ‘n nuwe horison beskryf. Genade en geloof verlig hierdie reis subtiel; ‘n oproep om nie met die lewe en tweede kanse te dobbel nie.
Ek moedig elke voornemende leser aan wat met slegs dowwe hoop ná verhoudingspyn en ‘n goeie skeut sinisme hier lees, om die eenvoud van die bundel nie te onderskat nie. Die voorwoord self is reeds ‘n moet-lees bron waarmee lesers sonder twyfel sal kan assosieer en, benewens “hulle storie”, is daar universele wysheid in die kort en maklik verteerbare strofes te vinde. Na alles, bly die grootste hiervan, die liefde.
Thyrza Cruywagen-Price
A collection of Afrikaans poems about a second chance at love.